Tweede kanse en ‘n dankbare hart…

 

Ek is seker dat almal van ons al tweede kanse (selfs dalk 3de of 4de kanse of meer) ontvang het…Hetsy in werk, met siekte, finansies of die liefde…As jy nou net daar waar jy sit, terugdink aan jou grootste tweede-kans-oomblik, kry jy heel moontlik, soos ek, trane in jou oë.

My beste verwysingsraamwerk is my eie lewe, daarom deel ek graag paar getuienis-stories oor tweede kanse…

My EERSTE, tweede kans was toe ek as baba aangeneem is. My aanneem Ma kon nie kinders hê omdat sy kanker gekry het op 12 en sy ‘n histerektomie moes ondergaan. Hulle wou baie graag kinders hê en het hul ‘bestelling’ ingesit by die CMR (Christelike Maatskaplike Raad).  Na 7 jaar se wag kon hulle my gaan haal. Vandat ek hulle baba was het ek geleer, gehoor, gevoel AANNEEM IS VIR ALTYD. Ek en my broer het so oulike boek gehad waarin diere spesies dit uitgebeeld het. Die zebra gesin het byvoorbeeld ‘n haas-baba aangeneem. So ek was soos ‘n bobbejaan-baba in ‘n kameelperd huis. My Ma en Pa en broer is dus nie bloedfamilie nie, maar dis my familie, en ons is met liefde en ‘n ander tipe ‘gom’ aanmekaar verbind. Diegene van julle wat my ken sal weet hoe verknog ek aan my ouers is. Dankie Pappa en Mamma (wat nie hier kan wees vanoggend) vir die beste EERSTE kans in die lewe. My twee kinders is my enigste bloed wat ek hierdie lewe kan instuur, hulle twee saam met my ongelooflike man, Pieter, is my gesinnetjie…My hartklop. Dit beteken vir my meer as wat julle ooit sal besef.  Ek het al eenkeer hier voor getuig dat ek die een sondagoggend ‘n dreigende  miskraam gehad het met Emma…en hoe ek vir Pastoor Dekker gevra het BID BID BID hierdie kind vas asseblief!!!! God het deurgekom vir my en ek het my tweede kans gekry om nog ‘n dogtertjie te kon hê…

Genade onbeskryflik groot.

Ek was in 1998 in ‘n groot motorfietsongeluk. Nadat ek regtig amper dood was en vervoer was vanaf Luderitz in Namibië na Panorama hospitaal in die kaap en ek my oë oopmaak, staan beide my ouers by my bed.  ‘n Tweede kans. Soos ek nou praat en getuig oor 2de kanse bewys ook dat daar dalk, nee nie dalk, verseker, ‘n plan met jou op aarde is wat nog nie voltooi is nie.  Dalk word jy kanse gegun soms keer op keer sodat jy moet besef jy moet doen wat God in jou hart plaas om te doen, OF om jou ‘ways’ te verander. Moontlik om jou kans op die ewige lewe te verkry, jou sake met geliefdes of selfs ‘on’geliefdes reg te stel. Daarom is ernsitge siektes (al is dit hoe bitter swaar en seer)deels genade omdat jy tyd kry om te groet, vrede te maak, of dalk te bekeer? Dalk.

Want ‘n skielike heengane soos ‘n motorongeluk ruk jou eenvoudig uit die samelewing sonder enige waarskuwing. Jy sou dalk nog wou jammer sê,  daardie blomme koop, die druk wou gaan gee. Daarom, en ek weet ons almal weet dit, moet jy elke dag so leef dat jou geliefdes geliefd voel, jou familie soos familie, nie soos vreemdelinge. Tel die foon op. Gaan drink daardie koppie koffie.Gee daardie drukkie. Maak die vrede. Gee jou aandag. En hou op jaag. Weet jy hoe baie verloor jy as jy jaag?  Ek het altyd baie gejaag, altyd op ‘n drafstap.  ‘n Propvol tot oorlopens toe vol dag. A tot by D, dan terug tot by C, en o ja, moenie vergeet van G. So het ek jaag jaag beland by ‘n neuroloog in Bloemfontein. Hy was vol. Vir lank vooruit. Pastoor Dekker bid toe vir my ‘n plek oop. Ek het prikkels in my hande en arms, voete en bene gevoel vir ongeveer twee maande. Ek het myself gek ge’google’. Vas geglo ek het ‘n ernstige neuron siekte. So sien ek vir Joost van der Westhuizen op die voorblad van die huisgenoot. Op die TV. Ek val amper flou. Jip. Ek het dit ook. Ek huil. Ek bid. Ek smeek. Asseblief ek kan nie nou doodgaan, ek moet nog my twee dogtertjies groot maak.  Na die neuroloog sy toetse gedoen het (ek het ‘n MRI scan vrygespring prys die Here, want o jinne ek het baie erg entevrees) het die sagmoedige dokter na my gekyk en gesê:  Wat gaan jy doen om aanpassings in jou lewe te maak, want as jy so aangaan soos jy aangaan (dit sluit in verkeerd of te min eet, te veel oefen of te min slaap ens.) gaan jou dogtertjies jou in elk geval verloor. Jy is besig met uitbranding. Spanning het ook sy tol geeis na veranderinge in ons gesin se lewe.

Kry balans. My handbriek was dalk opgetrek. Ek glo vas dat God soms jou spreekwoordelike handbriek optrek om jou te laat halt. “H” staan vir HOKKAAI! Om jou te laat besef dat jy die wêreld om jou moet raaksien, beleef. Die beste beskrywing hoe ek my punt wil oordra is, as ek met my nou-nie-meer-‘n-baba-Emma gaan stap in die stootwaentjie kyk ek letterlik na die mooi bome en die groen grasperke, ek hoor die voëls, ek ruik die vars oggendlug, of as ek laat namiddag gaan stap ruik ek die braaivleisvure.

STOP and stare…

Ek het eendag ‘n baie waar ding raakgelees, en julle het dit tien teen een al gehoor:

Niemand lê eendag op hul bed en vra om hul bankstate te sien sodat hulle die bankbalans kan sien nie, nee, almal wil hul familie by hulle hê.  Maak werk van jou tweede kanse, en “consider yourself lucky” as jy al  (soos ‘n kat 9 lewens het) jy by jou 9de tweede kans trek.

So gaan drink ek een middag koffie by my Ma. Sy laat my lag en ek spoeg die koffie oor my dagboek, oor die tafel, oor my spierwit uniform, oor die vloer, maar ek lag dat die trane loop. O lag bly darem maar net die beste medisyne….Ek besef toe ook dat ek so lanklaas so gelag het.

Geniet jou lag oomblikke…

Dit bring my by my laaste storie.  So word daardie motorfiets ongeluk van 20 jaar gelede se skroewe wat destyds in my been gesit was 6 weke terug uitgehaal, want dit het begin probleme gee.  Voor ek ingaan teater toe luister die narkotiseer na my hart en vra dringend ‘n hartsonar aan.  Daar is iets fout met my hartklep of iets…..AORTA SCHLEROSE is die diagnose. Ek moet van nou af op chroniese medikasie gaan.  Pille. Wat?  Ek? Hart moeiliheid? Wel, nou is ek deel van die SUN MON TUE WED THURS FRI SAT brigade wat weekliks hulle pille moet uittel. Maar as dit ‘n ou pilletjie of twee vat om nog koffie-uitspoeg-lag-sessies te beleef, nog pajamadril aande, nog klein bollatjies maak vir ballet, nog klein mieliepit tandjies borsel, nog lekker lê en fliek kyk in my man se arms, nog sondae kan gaan boud eet by my ouers of skoonouers….B R I N G  I T  O N!

Soms is jou “life-line” van tweede kanse aanmekaar gesit. Bloot God se genade.

Luister dalk hoekom jy tweede kanse gegun word. God probeer dalk vir jou iets sê. Leer.

Laat jou tweede kanse VIR jou werk, deur jou werk, vir ander.

Beteken meer.

En moenie wag tot more, want jy leef dalk reeds in jou tweede kans…

 

 – Het op 26 Maart 2017 die geleentheid gehad om te preek by die Volle Evangelie Kerk. Dankie Pastoor Dekker vir die geleentheid.  88410cd94e0abd271aaa1ba65d07ec6518485961_1022760421193740_7285065583840074615_n

 

‘n Slaappil en baie liefde…

Die bord het gese, UPINGTON 10 km, en die skoenlappers in my maag het skielik meer begin voel soos mossies wat vladder in my maag.  Ek en my vriendin, Nina, was amper by my moontlike-hopelik -amper-hopelik-kerel, vir ‘n naweek kuier in my tuisdorp. My swart yaris het die bult uitgery na die huis op die kop soos ‘n wafferse hilux (wou seker bietjie ‘off show’ voor die boer).  Wat ‘n lekker herinnering is hierdie nie vir my nie, ek dink nogal baie daaraan, soos nou.   Sewe jaar en twee kleuters later kyk ons nie noodwendig vir mekaar meer met fladderende wimpers en bambi oe nie, nee ek sou se meer draak oe, wat vuur spoeg so af en toe as die min slaap en middernagtelike manewales jou lewe onderstebo gooi.  Dit is 03:00 en ek staan in die kombuis besig om ‘n sappie te skink en ‘n teetjie te maak vir die twee prinsesse in die huis. Pappa het ‘n slaappil geneem, lekker vroeg, want hy wil tog net asseblief  ‘n goeie nagrus inkry vir ‘n slag. Hy kan nie met so min slaap nie. (moenie vergeet Mamma is self op tramazac pynpille na haar knie prosedure wat sy NOG NIE EERS ‘N WEEK TERUG GEHAD HET NIE,  maar daar le ek toe, so wakker soos ‘n haas. ‘n Vlakhaas) Ek woel en werfskaf so op een been en een kruk in die kombuis rond toe Koning Rosekrans skielik in die deur verskyn met hare wat in alle rigtings staan, oe skrefies getrek teen die skerp kombuislig:  “Wat gaan nou aan?”  Ek antwoord: “Ons kinders gaan aan..” Hy hak af en se merkbaar geirriteerd: “My slaappil is uitgewerk!” en maak amper ‘n 365 grade draai op sy hakke en gaan terug bed toe.  Toe alles en almal weer tot bedaring is gaan le ek op my stukkie van die bed en druk druk so op die grond om nie af te val nie.  Die tweetjies le soos seesterre langs my uitgestrek. Ek le en giggel in die donker vir die hele scenario wat sopas in ons huis afgespeel het, en dit raak toe ‘n onbedaarlike lag, so ‘n stil stil binnetoe lag.  My hart vol liefde vir hierdie drie. Dit is valentynsdag, en al is dit net nog ‘n dag is dit tog sommer weer ‘n geleentheid om vir die liefde in jou lewe te wys dat jy steeds lief is,  steeds daar wil wees, steeds die man of vrou is wie hulle destyds ontmoet het en steeds geliefd en spesiaal wil voel. So as jy nie moeite doen die ander 364 dae van die jaar, probeer dan weer vandag. Dit is jou kans.  Al gaan jy na ‘n restaurant as jou keuse om die groot “L” te vier, met spaghetti wat al droog geword het op jou swart nommertjie se mou na jy die kinders kos gegee het, of al gaan julle fliek en jy raak hand aan hand aan die slaap, of jy gee ‘n blommetjie saam met ontbyt in die bed. Oor ‘n paar jaar dink jy weer terug aan hierdie dag se herinnering. So, laat dit tel, want dalk is daar nie meer so baie dae oor om nuwe ‘onthou jy daardie dag’ gedagtes te maak nie. Ek ry steeds in daardie einste swart yaris, ek het getrou met daardie einste kerel, en ek het nou nie meer ‘n bult wat ek moet uitry huis toe, maar wel ander paaie, soos na ‘n kleuterskool en balletklasse en  vanaand…..Na die bioskoop. Met my valentyn.

P.S Ek het tot ‘n geskenk gekry… ek dra vanaand my nuwe oorbelle met my bambi-oe.

 

Poppie

My liewe drie en ‘n half jarige, Melia,  het haar geliefde, heup-aan-heup pienk poppie, met die naam ‘Poppie’ verloor…..Die poppie het sy as geskenk gekry met geboorte. Hulle is onafskeidbaar. Ons moes al kilometers aflê as Poppie iewers vergeet was, oproepe maak laataand om te hoor “Is Poppie dalk daar?”, kleuterskole laat bontstaan vir die soek na die pop. Voel soos een van my kinders…. So besef ons so dag later, maar Poppie (wat opsigself basies aan nog net ‘n draadjie hang, het al nuwe bene gekry, ‘n nuwe rok, en net verlede week is haar gorrel ook toegewerk, Poppie lyk basies of sy heelpad grondpad gery het) is nêrens te vinde….Ons bel mense wat mense ken wat sekuriteit vra, onder al die beddens, kaste, speelgoed, tot in die dromme…..Ons vermoed toe maar Poppie het dalk by die ons dorp se plaaslike ‘kuierfees’ weggeraak (die volle 15 min wat ons daar was)….SY IS WEG. Ek is skoon siek. Ons vertroetel die ou poppie al vir amper 4 jaar……Ek is skoon huilerig. So bid ek ook vir Poppie, en ek vra, sê, smeek amper, ek weet dit is net ‘n pop maar ai….Kan ons nie maar vir Poppie vind nie. So eien Melia sommer haar 1 jarige sussie, Emma se pop vir haar toe, en ek vra maar wat gaan jy hierdie poppie noem? Sy sê: “Aanmekaar Poppie”…..(ag my hart, so Poppie leef dan nou voort,’ aanmekaar’ Poppie……) Ek maak kos die maandagaand na die ‘hartseer’ naweek  en die twee speel daar rondom my. Ek het Emma op die heup en toe ek weer ‘n tree wil gee… D a a r l ê P o p p i e o p d i e k o m b u i s v l o e r!

Ek hardloop na Melia toe en sy weet mos hoe baie ons na Poppie gesoek het, sê hoe baie ek tot vir Poppie gebid het…..Sy MOET kom kyk…… Daardie gesiggie! Sy hak af en sê: “Mamma, dink jy God het vir Poppie daar op die grond gegooi?”

P.S Ek het lewensversekering op Poppie uitgeneem.

14922229_10210890945570467_1784869197520249013_n

‘n Kleuter…’a walk in the park’…

So beplan jy, droom jy, tel jy die slapies af na jou welverdiende jaarlikse vakansie. Die dag breek uiteindelik aan. Vodde van alles inpas voor julle die langpad aandurf, gee jy nie om nie, want jy sien so uit na jou rus en Kaapse-cappucinos’ (decaf natuurlik) en na son en see en lees (stapel boeke is ingepak). Iets wat jy wel nie in berekening gebring het nie is jou TWEEJARIGE. Julle weet daardie storie wat jy altyd van hoor van ‘terrible twos’? Wel, wel, dit was toe nooit ‘n mite nie maar ‘n ware verhaal. Meer soos ‘n drama.

Die genomineerdes is:

Melia Roos (x3)

Die wenner is: MELIA ROOS! Sy wen die oscar vir haar hoofrol in die Roos huishouding vir “Terrible Twos”. Buiten die buie het ons nog ‘n paar bloutjies ook geloop, om net ‘n paar uit te wys, soos die dag wat ons na ‘n Spa gaan vir ‘n rustige behandeling. Ons maak natuurlik beurte, elkeen het sy uur en ‘n half van spa-tyd terwyl die ander een vir klein mensie besig hou. Perfekte plan nè? Behalwe dat my rukkie van ‘bliss & tranquility’ binne ‘n oogwink verdwyn toe ek ‘n oorverdowende geluid hoor, en besef sy het in die glasdeur van die Spa vas gehardloop en die bestuurder en die terapeute skarrel om ys te kry vir die ‘eier’ teen die kop. Daar sit ek met die massa histerie en Pappa gaan in vir sy behandeling…Dit is ‘n effense reënerige dag en ‘die weer is in my hare’. Ek vaar toe maar Canal Walk in met my ‘mince bolla’ en probeer vir Poppie tot bedaring bring.

Nog ‘n wakker word in die mooie Kaap, en ons het oorleef en sien uit na ons volgende volgepakte dag. Om ‘n draai by die dokter te maak al is dit langs die ‘sea side’ was nie regtig deel van ons beplanning, maar sus se arm het ‘uitgehak’ en daar sit ons met haar by ongevalle en wag vir die dokter. Die suster bring ‘n kalmeermiddel (slegs vier druppels op ‘n teelepel…?) voor die dokter die elmboog terug ‘click’. Sy weet duidelik nie met wie sy te doen het nie, en die Pa vra: Kan ons dalk so bottel koop?

Op ‘n ander dag sit ons in Tygervallei en probeer iets nuttig. Klem op probeer want Juffie wil net ‘explore’. Die foon lui en dit is Ouma-van-Upington. Sy het afgekom Kaap toe om vir haar broer van Kanada te kuier terwyl hulle hier is. Hulle is ook in Tygervallei. Ons kry my Ma en haar broer en groet en vind toe uit maar sy bly vir so paar dae in die Kaap. Die volgende oggend gaan ons na die ‘High tea’ by die Mount Nelson en daarna gebeur dit so dat Melia by Ouma en my broer bly vir die middag en ek en my man kan na ‘n ballet in die artscape gaan kyk. Wat ‘n heerlike, broodnodige middag van kultuur en rustigheid en mekaar was dit nie gewees. Ouma’s verdien medaljes, veral as hulle op die regte tyd heel onverwags hul opwagting maak.

Die kaap was ‘n perd van ‘n ander kleur om aan te durf met ‘n tweejarige, veral as sy haar plattrek op die grond en huil omdat sy nie haar sin kry, of die pad vat tussen die rakke in en jy agterna hardloop soos ‘n wafferse Zola Bud. Ons het NET twee aande van ons amper drie weke vakansie deurgeslaap. Geen kommentaar.

In die aande plons ons letterlik neer in ons bed na dit ‘n ewigheid geduur het om vir kleuter in die bed te kry na ‘n dag van absolute oorstimulasie. Dit voel asof ek die two oceans gehardloop het, behalwe dat ek geen bewys of medalje vir hierdie wedloop kry nie. So lê en dink ek aan die einde van elke dag wat verby was, alles wat ons gedoen het, en dat ons darem al drie veilig is. (tipies Ma) Toe tref die gedagte my: Hier binne in my maag kweek daar NOG ‘n oscar wenner! Twee van hulle vir ons volgende vakansie. En ek kan nie help om te glimlag (dalk meer effe senuagtig giggel) en te besef dat tussen al die uitdagings van kinders grootmaak daar ‘n enorme rykdom opgesluit lê. Ek is die rykste vrou op aarde, ek is ‘n Mamma, al het ek min geld en kry ek min slaap.

Glimlaggende Geseënde ekke…IMG_9938

Lief die lewe

Dit is soms ‘n mallemeule in my kop van al die idees, mooi woorde, planne, waardering, liefde, oplet en droom dat ek dit goed gedink het om dit neer te pen. Dalk meer neer te tik. So hier is dit: My blogg. The Wellness Mama… Want my hart klop wild as dit kom by my man en my skattige dogtertjie en ek kan heel liries raak oor hulle. Dan is my ander passie my salon waar ek fokus op gesondheid, kwaliteit behandelings en ‘feeling good’…This is the start. Wellness Mama xox